LiveZilla Live Help
www.dailytenders.co.za
Staat slaan toe op platinummyne - 2010/07/20
News Article: 5867 has been read 185 times.
Johannesburg. - Die vier grootste platinumprodusente is gister deur die departement van minerale hulpbronne verbied om werkfronte van wyer as 6 m te hê.

Hulle moet ook binne die volgende paar dae voorleggings aan die hoofmyninspekteur doen oor stappe wat hulle doen om rotsstortings te voorkom. Dit kom ná ’n grusame ongeluk verlede week in Marikana, Aquarius se gemeganiseerde myn naby Rustenburg.

Sulke strenger vereistes kan produksie ernstig inkort.

Aquarius, die wêreld se vierde grootste produsent van dié metaal, het gisteroggend ’n kwart van sy waarde verloor toe dit bekend word dat sy werkfronte voortaan nie wyer as 6 m mag wees nie.

Dit volg op ’n ongeluk verlede week waarin vyf werkers omgekom het toe ’n werkfront van 10 m lank in Marikana op hulle ingetuimel het. Die vyf werkers is onder sowat 500 ton rots verpletter.

Aquarius onttrek 85% van sy platinumproduksie met gemeganiseerde front-pilaar-mynboumetodes en gebruik werkfronte wat 10 m wyd is.

Inspekteurs van die departement mineraalbronne het Aquarius Vrydag opdrag gegee dat sy werkfronte in twee myne, Marikana en Kroondal, voort aan nie meer as 6 m wyd mag wees nie.

Smaller werkfronte sal tot produksieverliese lei. En ontleders waarsku as die voorskrif na ander platinummyne in die provinsie uitgebrei word, kan dit ernstige gevolge vir die bedryf inhou.

Toe aandelemarkte gisteroggend open, het Aquarius se aandeelprys dadelik met 26% gedaal R22,25, maar later effens herstel en die dag uiteindelik afgesluit op R26 of 23,5% minder as Vrydag se sluitingsprys.

Mnr. Leon Esterhuizen, platinum ontleder by RBC Capital Markets in Londen, het Aquarius gistermiddag afgegradeer. Ses ontleders beskou die aandeel nou as ’n koopgeleentheid, vyf beveel aan dat Aquarius verkoop word en drie sê dis ’n hou-aandeel.

Dié maatskappy, wat in Londen genoteer is met ’n sekondêre notering op die JSE, het ’n hoëvlak-vergadering met die departement van minerale bronne aangevra. Die vergadering het gistermiddag om 15:00 begin en was eers teen 18:00 verby.

Die uitslag van die vergadering is nie bekend gemaak nie, maar gerugte is dat die vier grootste produsente, Anglo Platinum, Impala Platinum, Xstrata en Aquarius, verplig gaan word om verslae oor hul boumetodes en front-standaarde aan die departement voor te lê, het Sake24 verneem.

By Impala, waar werkfronte vroeër 14 m wyd was, het nege werkers verlede jaar in ’n soortgelyke ongeluk gesterf, waarna Impala verplig is om werkfronte tot 6 m tussen pilare te verkort.

Mnr. Steve Shepherd van JPMorgan Cazenove, een van die land se voorste platinumontleders, het aandeelhouers verlede week in ’n nota gewaarsku dat ’n voorskrif soos dié aan alle platinummyne in die provinsie beslis tot produksieverliese en kostestygings sal lei.

“Implats het destyds aangedui dat dit ’n 20%-daling in produksie in die betrokke gebied gaan meebring,” lui Shep herd se nota.

“Dit beteken egter nie alle myne gaan 20% van hul gemeganiseerde produksie verloor nie. Elke myn het sy eie steunstelsels wat om eiesoortige parameters in die myn ontwerp is,” het Shep herd gesê.

Jan de Lange

Source: Sake24 Date: 2010/07/20
Print Article | Previous Page | Home Page | Leads 2 Business | Projects