LiveZilla Live Help
www.dailytenders.co.za
Gigajoule dien nuwe aansoek in - 2010/07/30
News Article: 5897 has been read 178 times.
Die gasmaatskappy Gigajoule Africa het ’n hersiende aansoek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ingedien vir die bou van ’n gaspypleiding aan die Weskus om ingevoerde aardgas na nywerheidsgebiede in die Kaap te bring.

Nersa het Gigajoule se vorige aansoek wat in Junie verlede jaar ingedien is, afgekeur weens onder meer klagtes van potensiële mededingers omdat Gigajoule aangedring het op eksklusiewe handelsregte vir 15 jaar.

Die nuwe aansoek het geen eksklusiwiteitstydperk buiten dié wat ingevolge die Gaswet vir gasverspreiding binne ’n spesifieke gebied toelaatbaar is nie.

As die gasverspreidingslisensie toegeken word, sal dit vir 25 jaar geld.

Mnr. Johan Visagie, hoofbestuurder van Gigajoule, het by navraag gesê die nuwe aansoek is net vir die invoer van vloeibare aardgas (LNG) en sluit nie meer die opsie van saamgepersde aardgas (CNG) van die Kudu-gasveld in Namibië nie.

Dit sal ’n aflaaiboei in die see naby Atlantis behels waar LNG-skepe hul vrag aflaai, ’n ondersese pypleiding na ’n gasverwerkingsaanleg aan die kus en daarvandaan ’n pypleiding na nywerheidskliënte.

Gigajoule hoop om ’n kragopwekker – Eskom se Ankerlig-kragstasie by Atlantis of ’n onafhanklike kragprodusent – as ankerkliënt vir die gas te kry. Die res van die gas sal na nywerheidsgebiede in Kaapstad gevoer word vir gebruik as energiebron deur verskeie nywerhede.

Aardgas word in sekere nywerheidsgebiede in Johannesburg en Durban as alternatief vir steenkool of diesel gebruik. Gigajoule bedryf ’n gasverspreidingsnetwerk in Maputo in Mosambiek.

Visagie sê die aansoek is weer ingedien ná konsultasie met belanghebbende partye. Die verwagting is dat Nersa teen begin Desember ’n besluit oor die aansoek sal neem.

Francois Williams

Source: Sake24 Date: 2010/07/30
Print Article | Previous Page | Home Page | Leads 2 Business | Projects